Innovartium is ontwikkel deur Dr. Lerina van der Westhuizen, ’n ervare opvoeder, wetenskaplike en spesialis in Chemie-onderrig.
Haar loopbaan het begin met ’n sterk wetenskaplike grondslag: sy voltooi ’n BSc in Biochemie aan die destydse PU vir CHO, vandag bekend as die Noordwes-Universiteit, waarna sy ook ’n BSc Honneurs in Farmaseutiese Chemie voltooi.Haar skoolhou-loopbaan begin by Potchefstroom Gimnasium, waar sy verantwoordelik was vir die onderrig van Fisiese Wetenskappe. Dit is hier waar haar passie vir die vak, en veral vir die manier waarop leerders wetenskap verstaan, verder vorm aangeneem het.
In 2007 stig sy Olympus Akademiese Sentrum in Potchefstroom — ’n gevestigde akademiese instelling wat fokus op die onderrig van Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde. Oor die jare het Olympus ’n ruimte geword waar leerders nie net ekstra klasse ontvang nie, maar waar moeilike konsepte stelselmatig, visueel en verstaanbaar opgebreek word.
Dr. Van der Westhuizen voltooi later ook ’n Meestersgraad asook Doktorale studie in Chemie-onderrig. Haar navorsing fokus hoofsaaklik op die verbeeldingryke, visuele en betekenisvolle onderrig van Fisiese Wetenskappe.
Die kernboodskap wat deur haar navorsing na vore kom, is duidelik: leerders word dikwels oorweldig deur dik handboeke, lang paragrawe en onnodige detail. In daardie proses raak die basiese konsepte — wat dikwels eenvoudige beginsels is — verlore tussen ingewikkelde beskrywings.Innovartium is uit hierdie insig gebore.
Die doel van Innovartium is om Fisiese Wetenskappe eenvoudig, visueel en toeganklik te maak. Die fokus is nie om die vak af te water nie, maar om die kernbeginsels helder te maak sodat leerders eers werklik verstaan voordat hulle begin memoriseer.Innovartium bou dus op ’n eenvoudige uitgangspunt:
Wanneer leerders die basiese beginsels verstaan, raak Fisiese Wetenskappe minder intimiderend — en baie meer moontlik.
Notifications